Koning koop R27 miljoen-huis in Jhb

Otumfuo Osei Tutu II. Foto: www.manhyiaonline.org

Ghana se koning Otumfuo Osei Tutu II het in die geheim ‘n R27-miljoen herehuis in Johannesburg gekoop om te gebruik tydens sy private mediese ondersoeke by ‘n eksklusiewe hospitaal in Gauteng

Osei Tutu II (62) is die koning van die Ashanti monargie wat ‘n grondwetlik beskermde, sub-nasionale tradisionele staat in die Republiek van Ghana is. Sunday Times berig dat Osei Tutu II se nuutste aankoop – ʼn 2000m² herehuis in Sandhurst, noord van Johannesburg – sal spog met ʼn span veiligheidswagte en huishoudelike personeel tydens sy afwesigheid. Die eiendom grens aan die huise van verskeie miljoenêrs en miljardêrs. Osei Tutu II het ʼn lening van R27 miljoen verseker van Standard Bank Jersey Limited, ʼn filiaal van die Standard Bank-groep. Die oordrag van die eiendom is in Januarie afgehandel. Die koning se woordvoerder, Owusu Boateng, sê dit is nie buitengewoon dat die koning ʼn “basiese huis” in Suid-Afrika koop nie. “Hy kom twee keer per jaar na Suid-Afrika vir mediese ondersoeke en bly dan gewoonlik by vriende, dit is hoekom hy besluit het om ʼn huis te koop. Die koning wou nie ʼn huis koop wat hoë onderhoud verg, met ʼn groot tuin nie, hy wou net ʼn basiese huis hê….dit het vier slaapkamers en werkerskwartiere. Dit is net ʼn normale huis.” Die gemiddelde prys vir ʼn huis in die spesifieke straat is sowat R12 miljoen. In November 2010 is ʼn huis van 2278 m² vir R46 miljoen verkoop in die straat. Osei Tutu II besit glo ook ʼn ses slaapkamer huis in Brittanje van nagenoeg £3 miljoen. Die huis is glo op ʼn 809ha erf en het onder meer perdestalle, tennisbane en ʼn teaterkamer.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.