ʼn Vrystaatse polisiebeampte wat glo op sy mede-beamptes losgebrand het nadat hulle hom in hegtenis probeer neem het op ʼn ongelukstoneel, het Maandag in die Harrismith-landdroshof verskyn.
Kapt. Mmako Mophiring, ʼn polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes het konst. Mduduzi Ndlovu (30) Vrydagmiddag by ʼn ongelukstoneel op die N3 buite Harrismith in hegtenis probeer neem toe hy op hulle losgebrand het. Ndlovu het glo teen ʼn taxi gebots terwyl hy in vol uniform was en glo onder die invloed van alkohol bestuur het. Ndlovu was nie aan diens ten tyde van die voorval nie. Ndlovu het glo op verkeersbeamptes geskiet nadat hulle hom in hegtenis probeer neem het waarna hy glo op polisielede losgebrand het nadat hulle vir bystand ontbied is. Ndlovu word van poging tot moord en dronkbestuur aangekla. Die saak is tot 10 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.