Konstruksiemaatskappye dalk verbied om te tender

Bouwerk aan die Groenpunt-stadion in Kaapstad

Die konstruksiebedryfontwikkelingsraad (CIDB) sal bepaal of maatskappye, wat knoeiery met tenders erken het, voortaan gediskwalifiseer moet word van staatstenders, het die Cape Times Maandag berig.

Die koerant berig dat die CIDB ʼn span aangestel het om die maatskappye te ondersoek, waarna hy kan besluit om boetes op te lê, die maatskappye te deregistreer of te diskwalifiseer van staatstenders. Die raad kan ʼn maatskappy glo tot R100 000 beboet en die maatskappy verhoed om vir ʼn periode van 10 jaar aansoek te doen vir konstruksiewerk in die openbare sektor.

“Die Mededingingskommissie het hulle skuldig bevind aan samespanning. Ons sal samespanning kragtens die gedragskode ondersoek,” het Hlengiwe Khumalo, waarnemende uitvoerende beampte van die raad, gesê.

Die Mededingingskommissie het op 24 Junie ʼn skikkingsooreenkoms met 15 konstruksiemaatskappye bereik, insluitend Murray & Roberts, nadat hulle saamgespan het vir tenders.

Die koerant het verlede week berig dat sewe groot konstruksie- en ingenieursmaatskappye in 2006 in die geheim ontmoet het om tenders vir Wêreldbekerstadia te allokeer en het op ʼn 17.5%-winsgrens ooreengekom.

Verskeie maatskappye, insluitend Group Five, Murray & Roberts, Stefanutti Stocks en Aveng het glo ook ʼn groep, genaamd Western Cape Building Market, op die been gebring om kontrakte vir drie groot bouprojekte in die provinsie uit te deel.
-SAPA

Lees ook:
Kriminele klagtes vir samespannende direkteure
Konkelwerk met bouprojekte
Konstruksiemaatskappye “voor ‘n vuurpeloton”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.