Konsultant-kostes: Moratorium op regstellendeaksie-aanstellings geëis

Die vakbond Solidariteit het vandag die regering gevra dat ’n moratorium op die toepassing van regstellende aksie geplaas word om te keer dat kundigheid vir die staatsdiens verlore gaan.

Die ouditeur-generaal se prestasie-ouditverslag het onlangs uitgewys dat staatsdepartemente miljarde rande op konsultante spandeer het. Die uitermatige spandering kom egter as geen verrassing nie, aangesien die regering behep is met absolute rasseverteenwoordiging ten koste van effektiewe dienslewering.

Dirk Groenewald, woordvoerder van Solidariteit, sê die regering se uitermatige spandering op konsultante is deels te wyte aan onbilikke regstellende aksie wat tot gevolg het dat kundigheid, bekwaamheid en ondervinding in die staatsdiens verlore gaan. “Die staat moet afsien van sy rasbeheptheid en eerder fokus op sy pligte soos vervat in artikel 195(1)(b) en 1(i) van die Grondwet, naamlik koste-effektiwiteit en aanstellingspraktyke wat op vermoë, objektiwiteit en regverdigheid gegrond is. Staatsdepartemente sal poste vir die doel van regstellende aksie vakant los, of aanstellings slegs op grond van ras en nie op grond van vermoë maak nie, ten einde die doelwitte van absolute rasseverteenwoordiging te bereik,” het Groenewald gesê.

Groenewald verduidelik verder konsultante word aangestel om die werk te doen. “Die ouditeur-generaal stel in sy verslag voor dat staatsdepartemente hulle interne vakante poste en kapasiteit gereeld moet hersien en, onder meer, die moontlike impak wat die moratorium op die vul van vakante poste op dienslewering het, moet evalueer,” het hy gesê.

Groenewald sê die Renate Barnard-saak, waar die arbeidsappèlhof beslis het dat werkgewers poste vir die doel van regstellende aksie vakant kan los, toon hoe die idee van absolute rasseverteenwoordiging bo die staat se pligte soos vervat in artikel 195 van die Grondwet geplaas word. Solidariteit het reeds hofstukke by die hoogste hof van appèl in Bloemfontein ingedien om teen dié uitspraak te appelleer. Die departement van polisie en die departement van korrektiewe dienste was twee van die agt departemente wat in drie jaar gesamentlik R24,6 miljard aan konsultante bestee het. Solidariteit is reeds in regstelleaksiesake met beide hierdie departemente gewikkel.

“Staatsdepartemente se besteding aan konsultante het ook tot gevolg dat belastingbetalers nie net die salarisse van staatsamptenare moet betaal nie, maar ook moet opdok weens die onbevoegdheid van dié amptenare en praktyke soos onblikke regstellende aksie. Op die ou end is dit ook die armste lede van die Suid-Afrikaanse bevolking wat die ergste onder die gevolge van swak dienslewering ly en ontmagtig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.