Kontant-transito-staking glo nie verby nie

“Geen ooreenkoms is in die kontant-transito-sektor onderteken nie,” het die Satawu Saterdag gesê.

“Ons wil graag bevestig dat die beweerde ooreenkoms wat geteken is, ‘n bedrogspul is,” het Vincent Masoga, woordvoerder van die South African Transport and Allied Workers’ Union (Satawu) gesê. “Die dokument is deur die werkgewers en sommige dronkaards onder dwang in ‘n kroeg geteken, sonder enige mandaat of regte luidens die onderhandelingsraad se reëls en regulasies.”

Die Padvragbestuursvereniging (RFEA) se woordvoerder, Magretia Brown-Engelbrecht, het in ‘n verklaring gesê dat drie kontant-transito-ledemaatskappye ‘n ooreenkoms met die Motor Transport Workers Union (MTWU) lede Vrydagaand onderteken het. “Die ooreenkoms is nie deur die RFEA of enige van die vakbonde goedgekeur nie. Die uitvoerende hoof van die MTWU distansieer ook homself van die ooreenkoms,” het sy gesê. “Die ooreenkoms is dus ‘n aanlegvlak-ooreenkoms tussen die genoemde maatskappye en daardie vakbond-lede.”

Satawu het egter gesê dat die persoon wat die ooreenkoms namens die MTWU onderteken het, nie ‘n mandaat van sy vakbond gehad het nie.

Brown-Engelbrecht het bygevoeg dat die onderhandelings tussen die RFEA, vakbonde, die kontant-transito-sektor se drie maatskappye en MTWU Saterdag voortgeduur het.

Die Nasionale Onderhandelingsraad vir die Padvrag en Logistieke Bedryf het hulself ook Saterdag van die dokument gedistansieer. “Die partye erken dus nie dié sogenaamde ooreenkoms nie,” het Karen Daniels, woordvoerder, gesê.

Die RFEA het vroeër Saterdagoggend gesê dat die staking in die kontant-transito-sektor beëindig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.