Koop die huis waar prinses Diana gebly het

Tarrystone House Foto: TimesLive

Die herehuis waarin prinses Diana gebly het ʼn maand voordat sy oorlede is, is nou vir R80 miljoen te koop.

TimesLive berig Tarrystone House in bo-Constantia het aan prinses Diana se broer, graaf Spencer, behoort, wat gereeld sy suster en die koninklike gesin gehuisves het. Die huidige eienaars van die vyf-slaapkamerhuis wil graag anoniem bly. Hulle het bevestig dat die sogenaamde “Diana gaste-suite” met ʼn en-suite badkamer, klein kombuis en sitkamer steeds die oorspronklike meubels bevat waarop die prinses 15 jaar gelede geslaap het. Spencer het ook buite Tarrystone House gesê hy blameer die paparazzi en beriggewers vir die motorongeluk in die Pont D’Alma-tonnel in Parys waarin die prinses omgekom het. “Ek het nog altyd geglo die pers sal uiteindelik tot haar dood lei,” het hy gesê.
Daar is twee wingerde, ʼn tennisbaan, gimnasium, sauna, jacuzzi en ʼn swembad op die landgoed. Die landgoed het ook ʼn uitsig oor Valsbaai. “Die huis sluit ʼn magdom sitkamers met dubbelvolume plafonne, ingevoerde kandelare en kaggels,” het Gina Meintjies, woordvoerder van Seeff gesê. Daar is ook blinders en kandelare van Venisië, ondervloerse verhitting, lugverkoeling en verhitte handdoekrelings. Daar is twee kombuise soliede eikehout-afwerkings. Die huis is beskadig toe dit in 1998 deur weerlig getref is. Die graaf en sy kinders, Kitty, tweeling Eliza en Katya, en Luis, het by die huis aangekom toe dit in ligte laaie gestaan het.

Prinses Diana

Die graaf het ʼn jaar daarna die huis vir R8 miljoen verkoop nadat hy glo “verveeld” geraak het met Suid-Afrika. Hy het na Althorp Landgoed in Northamptonshire teruggetrek waar Diana begrawe is. In haar omstrede biografie, The Diana Chronicles, het Tina Brown, die voormalige redakteur van Vanity Fair, gesê dat Diana glo in ʼn stadium na Suid-Afrika wou verhuis. Sy het glo die hartspesialis Chris Barnard versoek om ʼn pos vir haar kêrel, die sjirurg Hasnat Khan, in Suid-Afrika beskikbaar te stel sodat hulle “saam in sonnige ballingskap met ʼn swembad kan leef”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.