Kopanang-myners staak nou ook

AngloGold Ashanti se Kopanang-myn naby Klerksdorp.

Werkers van AngloGold Ashanti se Kopanang-myn naby Carletonville het Vrydag onwettig begin staak, sê die maatskappy.

“Die nagskofwerkers van dié myn het nie vir werk opgedaag nie, en die oggendskofwerkers ook nie,” sê Alan Fine, woordvoerder van AngloGold. “Dit is ʼn staking – ʼn onwettige een.”

Die maatskappy het nog geen kommunikasie van die stakende werkers of hul verteenwoordigers ontvang nie.

Fine sê die myn het sowat 5 000 werkers en is verantwoordelik vir 4% van die maatskappy se produksie.

Werkers by Lonmin se Marikana-myn in Noordwes het pas teruggekeer werk toe na ʼn ses weke lange staking. ʼn Loonooreenkoms is Dinsdag bereik.

Die staking het intussen na ander myne in die omgewing uitgebrei, insluitend ʼn chroommyn, waar werkers ook verteenwoordigers van vakbonde verwerp het en besluit het om vir hulself te onderhandel.

ʼn Rubriekskrywer van Business Day het vroeër vandeesweek geskryf dat ʼn staking soos dié by Lonmin waarskynlik sal aanleiding gee tot stakings by ander myne vir soortgelyke loonverhogings, en dat so ʼn reeks stakings die hele mynbedryf kan destabiliseer.

Frans Baleni, algemene sekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM), het Woensdag gesê hulle het reeds oproepe van lede in die steenkool-, platinum- en goudmynbedrywe ontvang wat vir soortgelyke loonverhogings wil onderhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.