Korkie-‘bemiddelaar’ se geloofwaardigheid bevraagteken

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Bewerings deur ʼn onbekende bemiddelaar dat Al-Kaïda-militante Pierre Korkie nie sal teregstel nie, is dalk vals, het die organisasie Gift of the Givers Sondag gesê.

“Dit kan wees dat iemand die boodskap gestuur het, maar hoe geloofwaardig is hierdie persoon?” wou dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die humanitêre organisasie in ʼn verklaring weet.

Korkie, ʼn oud-onderwyser van Bloemfontein, en sy vrou Yolande, is verlede jaar in Taiz in Jemen ontvoer. Yolande is verlede maand vrygelaat, maar Pierre is steeds in aanhouding en die ontvoerders eis ʼn losprys van R32.5 miljoen. Die sperdatum vir die losprys het gister verstryk.

“Eerstens was daar geen stambemiddelaar, buiten ons eie verteenwoordiger, Anas al-Hamati, betrokke by Yolande se vrylating nie,” het Sooliman gesê. “Waar het hierdie bemiddelaar skielik vandaan gekom?” Sooliman sê almal in Jemen is ʼn “onderhandelaar” en ʼn “bemiddelaar”.

Hy sê in die nege maande wat die organisasie Pierre en Yolande probeer opspoor het, is die organisasie deur talle “leiers” genader wat, vir ʼn aansienlike fooitjie, glo sou aandui wie die ontvoerders is, waar die Korkies aangehou word en hoe hulle vrylating onderhandel kan word. “Almal van hulle was vals,” het Sooliman gesê. “Ons hoop nie ons het nou ʼn soortgelyke situasie nie.”

Sooliman wou weet of die “bemiddelaar” bewys van lewe kan verskaf en of hy kan reël dat daar met Pierre kontak gemaak kan word. “Indien nie, sal ons nie baie aandag skenk aan dié leidraad nie.”

Die bemiddelaar het Saterdag glo aan die nuusagentskap Agence France-Presse (AFP) gesê dat Korkie steeds leef en dat die vooruitsig van sy teregstelling uitgesluit is. Hy het glo aan die agentskap gesê hy is in kontak met die ontvoerders en dat die situasie steeds delikaat is. “Hulle kan nie die gyselaar sonder ʼn losprys bevry nie. Indien die Suid-Afrikaanse owerhede aandui dat hulle bereid is om op die ontvoerders se eise te reageer, dan kan ons versoek dat die sperdatum uitgestel word,” het die bemiddelaar gesê.

Anas al-Hamati van Gift of the Givers en sy gesin het laat in Januarie uit Jemen na Dubai gevlug nadat onderhandelings ʼn dooiepunt bereik het. Die ontvoerders het al-Hamati daarvan beskuldig dat hy die losprysgeld vir homself gehou het. Hulle wou nie aanvaar dat die Suid-Afrikaanse regering nie bereid is om die losprys van $3 miljoen te betaal nie.

Al-Hamati het die onderhandelings fasiliteer en die laaste gesprek, van aangesig tot aangesig, was op 18 Januarie.

Sooliman sê hy is besorg oor Korkie se gesondheid. “Het hy sy toestand oorleef of is hy reeds dood weens komplikasies? As hy reeds weens mediese redes dood is, is dit een van die redes waarom Al-Kaïda al die afgelope 13 dae lank stilbly. As Pierre baie siek is, maar steeds leef, is ek van mening dat hulle hom nie nou sal teregstel nie.”

Sooliman sê die Al-Kaïda-leiers sal nie toelaat dat ʼn man, wat so ernstig siek is, tereggestel word nie, aangesien dit hul openbare beeld skade sal berokken. -SAPA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.