Die man wat namens die noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers met Al-Kaïda-milltante in Jemen onderhandel het vir die vrylating van die Suid-Afrikaner Pierre Korkie, het na Dubai gevlug.
Dr. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, sê Anas al-Hamati en sy familie het Dinsdagoggend na Dubai gevlug uit vrees vir hulle veiligheid. Sooliman sê Korkie se ontvoerders glo dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn losprys betaal het en dat al-Hamati dit gesteel het. Die ontvoerders het al-Hamati gedreig deur ʼn foto van ʼn plofstofgordel aan hom te stuur. Suid-Afrika betaal nie lospryse vir sy burgers wat in ander lande ontvoer word nie. Sooliman sê hulle het Maandag laas kontak het die ontvoerders gehad. “Ons verhouding met hulle het versuur en ons wag vir hulle om ons êrens die week weer te kontak. Ons hoop dat hulle teen dan rasionaal en kalm sal wees en al-Hamati sal glo.” Sooliman sê hulle net nog nie weer nuus oor Korkie se gesondheid ontvang nie.