Nege polisiebeamptes en ses immigrasiebeamptes wat van bedrog en korrupsie aangekla word, is Vrydag in die Fouriesburg-landdroshof in die Vrystaat op borg vrygelaat.
Die beamptes is op 7 Mei by die Caledonspoort-grenspos in hegtenis geneem. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle mense van Lesotho toegelaat het om Suid-Afrika binne te kom sonder die nodige dokumente en teen ʼn fooi van R150. Die beskuldigdes het glo partykeer tot R100 000 per dag gemaak. Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê David Mofokeng, Kagisho Sempe, Joseph Masilo, Kelebogile Mokhuoa, Edward Simelane, David Radebe, Mojalefa Ranthama, Joseph Bunu, Kgotso Dlamini, Sello Ditlhakanyane, Jan Mashinini, John Mofokeng, Makgauta Sebofi, Phillip Mofokeng en Richard Mofokeng is almal op borgtog van R8 000 vrygelaat. Shuping sê die saak is tot 19 Junie uitgestel en na die Bethlehem-streekshof oorgeplaas.