‘Korrupte’ SAPD-lede op borg vrygelaat

Kol. Hein Barnard en maj.gen. Solly Lazarus van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat van bedrog ter waarde van R1.1 miljoen aangekla word, is Dinsdag op borgtog vrygelaat.

Die twee mans is Dinsdagoggend in hegtenis geneem op klagtes van diefstal, bedrog en korrupsie nadat hulle glo voordeel getrek het uit die geheimemisdaadintelligensiediens-fonds. Die mans het glo van die geld uit die fondse deur ʼn motorhandelaar in Centurion, Pretoria, kanaliseer.

EWN berig die twee het voordeel getrek deur motors vir vriende, familielede en vennote aan te koop. Hulle is ook vroeër by die bedrogklagtes teen Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie, betrek. Dié klagtes is in 2011 op ʼn omstrede wyse onttrek.

“Hulle is altwee uit die SAPD geskors,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, gesê. Hulle is Dinsdag in die Pretoriase landdroshof op R10 000 elk borgtog vrygelaat.

Die saak is tot 21 Februarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.