Kospryse verhoog meer as inflasie

Kospryse in Suid-Afrika verhoog drie keer meer as die koers van inflasie, het die maatskappy Debtbusters Vrydag gesê.

“Verbruikers spandeer meer en meer geld aan noodsaaklikhede weens die voortdurende styging van verbruikersgoedere en dienste,” het Ian Wason, die uitvoerende hoof van Debtbusters, in ʼn verklaring gesê. “Die verbruikersbesteding aan noodsaaklikhede, soos kos-, brandstof- en vervoerkostes, in verhouding met hul inkomste het drasties toegeneem.”

Volgens Wason gaan die meeste mense, wat in die hoë-inkomstegroep val en R20 000 of meer per maan verdien, gebuk onder ʼn 14%-verhoging in kospryse oor die afgelope nege maande.

Statistiek Suid-Afrika het Woensdag gesê die verbruikersprysindeks (VPI) se jaarlikse inflasiekoers vir alle stedelike gebiede het tot 6.3% in Julie gestyg.

Wason het gesê die VPI oorskry die voorspelling van ʼn 5.9% gemiddeld vir 2013, sowel as die Reserwebank se teiken van tussen 3% en 6%.

“Die oorskryding van die teiken van inflasie kan toegeskryf word aan die drastiese verhoging in die brandstofprys, die swakker rand asook groter ekonomiese druk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Daniela ·

Dit help nie die branstofprys, swakker rand en groter ekonomiese druk word die heeltyd voor ons gegooi nie; ons almal weet dit. Wat word aan die saak gedoen, gee vir ons die plan van aksie eerder as verskonings. Ons word by die dag armer!

H J Bester ·

Daniela, daar word niks aan die saak gedoen nie bloot omdat die ANC-regering nie iets wil doen nie.

Die groot rede vir die huidige toedrag van sake is dat die beleggers, veral uit die buiteland, waarvandaan ons baie kapitaal kry, nie vertroue het in die ANC-regering nie. Die direkte effek hiervan is ‘n verswakking van die Rand-waarde teenoor die US$ en dit maak invoere, soos onder andere brandstof, duurder. En omdat alles goedere vervoer moet word, affekteer dit die prys van alle items.

Die abnormale styging in die prys van goedere, is die gevolg van die abnormale verswakking van die Rand – dit het met ‘n baie groot persentasie gedurende die afgelope jaar verswak.

Kaspaas Breekwater ·

Danksy al die loon stakings en al die vakbonde met hulle belaglike salaris verhoging eise, wat alles na die verbruiker deurgegee moet word.

Seg Net ·

Indien dit so aangaan sal ons binnekort nie ‘n vet mens in hierdie land sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.