Kotzé: ‘Ek het Ina probeer beskerm’

Johan Kotzé in die hooggeregshof in Pretoria. Die foto is deur @LielaMagnus op Twitter gelaai.

Johan Kotzé, die sogenaamde Modimolle-monster, beweer hy het probeer om sy eksvrou Ina Bonnette te help deur sy medebeskuldigdes te smeek om haar nie seer te maak nie.

Bernard Bantjes, Kotzé se regsverteenwoordiger, het vandag die bewering gemaak in die hooggeregshof in Pretoria. Bonnette het gister met haar getuienis begin teen Kotzé, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka. Die vier mans word aangekla van die verkragting en marteling van Bonnette en die moord op haar seun, Conrad. Die voorval het op 3 Januarie in Modimolle (Nylstroom) plaasgevind. Bonnette het gister getuig Kotzé het beide haar tepels afgesny, ʼn skroef in die oop wonde inforseer en sy drie medebeskuldigdes glo aangemoedig om haar te verkrag.

Bantjes het vandag aangevoer dat Bonnette vir Kotzé onder die indruk gebring het dat sy met hom wou versoen. Bonnette het ontken dat sy in November verlede jaar met Kotzé seks gehad het by haar woonstel en hierna tyd saam met hom deurgebring het by ʼn vakansieoord. Bantjes het beweer dat Kotzé na die vakansieoord buite Modimolle gery het op die aand voor die Nuwejaar en gesien het hoe Bonnette met ʼn ander man dans en hom soen. Hy het toe glo hierna na haar woonstel gery waar hy glo gesien het hoe ʼn man Bonnette se borste ontbloot en daaraan vat. Bonnette het erken dat sy saam met ʼn ander man was, maar het gesê dat sy en Kotzé reeds vervreem was. Sy het egter ontken dat die gebeure, soos deur Bantjes voorgehou is, ooit gebeur het.

Kotzé beweer dat Bonnette op 3 Januarie na sy huis gekom het om met hom te gesels oor die gebeure rondom Nuwejaar. Volgens Bantjes het Bonnette ʼn vibrator uit haar handsak gehaal, op die tafel gegooi en aan Kotzé gesê dat hy dit op sy volgende vriendin kan gebruik. Volgens Kotzé was hy in die badkamer toe hy Bonnette hoor skree het. Toe hy die slaapkamer binnekom, het hy glo gesien dat sy drie medebeskuldigdes Bonnette gegryp het. Bantjes beweer Kotzé het die mans probeer stop en aan hulle geskree het om haar nie seer te maak nie.

Die verhoor gaan Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.