Krag- water- en vullisprobleme in Witbank

Alhoewel die eMalahleni-munisipaliteit (Witbank) Woensdag onder administrasie geplaas is, moet inwoners glo nie verwag dat die krag-, water- en vullisprobleme oornag opgelos gaan word nie.

Koos Venter, die DA se koukusleier, het Maandag aan Maroela Media gesê die administrateur erf ʼn dorp met ʼn infrastruktuur wat in flarde is ná jare se nalatigheid en gebrek aan instandhoudingswerk.

Maroela Media het verskeie klagtes van inwoners in die gebied ontvang dat hulle gereeld water- en elektrisiteitsprobleme ondervind, en dat hul rommel ook vir weke lank aaneen nie verwyder word nie.

Daar is aanvanklik aantygings gemaak dat die elektrisiteitsprobleme verband hou met ʼn staking van munisipale beamptes ná die munisipaliteit onder administrasie geplaas is.

“Ek kan bevestig dat die onlangse kragprobleme nie sabotasie was nie,” het Venter gesê.

“Die sukkelende infrastruktuur het probleme gegee, en dit het toevallig met die staking gepaard gegaan. Die Tasbedpark-gebied was wel vir twee dae lank sonder water, omdat ʼn kontrakteur nalatig was. Hy het herstelwerk gedoen en toe begin staak voor watertoevoer weer herstel was,” het Venter bygevoeg.

Hy sê die munisipaliteit ervaar tans ʼn agterstand van sowat drie weke met rommelverwydering. “Slegs agt van eMalahleni se 24 vullisverwyderingsvoertuie is in ʼn werkende toestand. Die staking deur munisipale werkers, en kontrakteurs wat nie betaal is nie, dra alles by tot die agterstand.”

Volgens Venter vergader die stadsraad Dinsdag om 10:00 waartydens die administrateur aan die raad bekendgemaak gaan word en die prosesse vorentoe bespreek gaan word.

Lebohang Mofokeng, die munisipaliteit se woordvoerder, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kevin Opperman ·

Lebohang Mofokeng is nooit beskikbaar nie. Ons sukkel al jare met riool wat onwettig in die dam gestort word deur die raad en hy reageer nooit op versoeke nie.

LEDGE SAUNDERS ·

Baie interesant dat die DA raadslede nou baie te se het, maar hulle dien al solank op die Stadsraad sonder om veel te verrig!

Elize ·

Ons is van die 17de April tot vandag sonder water. Ek Bly in Tasbet Park X3 en wraggies ek het nie water nie.

Carien de Villiers ·

Gaan na die FB page Antwoord jou foon Salome as julle regtig wil sien hoe sleg dinge in Witbank is. Dis pateties dat men’s Moët aan hou betaal en betaal – vir niks!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.