Kredietkaartbedrog het die afgelope finansiële jaar nagenoeg verdubbel, het die Suid-Afrikaanse bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) Woensdag bekendgemaak.
Sabric sê volgens hulle verslag het kredietkaartbedrog toegeneem van R263,8 miljoen in die 2008/2009 boekjaar na R403 miljoen in die 2009/2010 boekjaar. Volgens die verslag het die meeste kredietkaartbedrog in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap voorgekom. Sabric se uitvoerende hoof, Kalyani Pillay, sê die bedrog het toegeneem aangesien meer kredietkaarte uitgereik is. Volgens Sabric se verslag het die aantal kontantonttrekkings by OTM’e met vervalste kaarte ook aansienlik toegeneem. Daar is beslag gelê op 159 draagbare skandeerder toestelle in vergelyking met die 190 in die vorige finansiële jaar. Dié skandeerder lees jou kaartbesonderhede sonder jou medewete. Daar is ook beslag gelê op 38 skandeerder toestelle wat op OTM’e aangebring is. Hier word jou kaartbesonderhede ook geskandeer terwyl ʼn klein kamera jou geheime kode afneem wanneer jy dit intik. Die verslag sê egter dat die daarstelling van ʼn toegewyde polisiespan om kaartverwante misdaad in Gauteng aan te pak, besig is om vrugte af te werp.