Krematorium onder die loep geneem

Argieffoto

Argieffoto

Pietermaritzburg se burgemeester het ʼn volledig ondersoek van stapel gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat vier kalwers gebruik is om ʼn krematorium in die dorp te toets nadat van die verassingsoonde onklaar geraak het.

Die krematorium is minder as ses maande gelede geïnstalleer teen ‘n koste van R7,7 miljoen. Daar is gesê dat die krematorium die kapasiteit het om 16 verassings per dag uit te voer.

Mxolisi Nkosi, die burgemeester van die Msunduzi-munisipaliteit, het Donderdag opdrag gegee dat die voorval ondersoek word, nadat die inligting tydens ʼn raadvergadering bekend gemaak is. Pietermaritzburg se Hindoe-gemeenskap is ontstoke en het versoek dat die krematorium geboikot word. Koeie word as heilig in die Hindoe-godsdiens beskou.

Nkosi het senior raadslede verseker dat die saak dringend hanteer sal word. “Ons is besig met ‘n ondersoek oor die voorval. Ons ondersoek ook die rede waarom die oond onklaar geraak het, skaars ses maande nadat dit aangekoop is, ” het hy gesê.

Die krematorium het ʼn vyf jaar waarborg- en onderhoudsplan. Lede van die uitvoerende komitee het daarop aangedring dat die diensverskaffer sy kant van die ooreenkoms moet nakom.

Manillal Inderjith, ʼn lid van die munisipaliteit se uitvoerende komitee, het versoek dat daar ernstig teen werkers by die krematorium opgetree word. “Diegene wat die toetse gedoen het moet die gevolge van hul aksies dra. As ʼn praktiserende Hindoe neem ek groot aanstoot hiermee en net so die Hindoe-gemeenskap,” het Inderjith gesê.

Nkosi het die Hindoe-gemeenskap om verskoning gevra. Hy het ook gesê ‘n verslag oor die krematorium sal vroeg volgende jaar ter tafel gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.