Krieket: Riller in “eindstryd” wag

Die tafel is gedek vir ‘n onvergeetlike beslissende eendagtoets tussen Suid-Afrika en Pakistan in Benoni, nadat die besoekers die reeks van vyf in Durban twee elk laat gelyk trek het.

Pakistan het die wedstryd wat teen die einde amper op ‘n naaldpunt gebalanseer was, uiteindelik maklik met drie paaltjies gewen. Die Proteas was vanuit die staanspoor met die rug teen die muur toe die aanvangskolwer Hashim Amla met die eerste bal van die wedstryd uitgehaal is. Met die volgende bal het die reus, Mohamed Irifan Colin Ingram met die bal van die wedstryd skoongeboul. Smith het ‘n harmansdrup 12 lopies bygedra voor hy sy tassies moes pak, en Berhardien het hierna drie balle vir sy enkellopie benodig.

AB de Villiers het ‘n broodnodige kapteinsbeurt van 75 gespeel, goed bygestaan deur Miller wat ‘n paar noue ontkomings beleef het. Teen die einde het Kleinveldt en veral Peterson ‘n bietjie aansien aan die kolfbeurt gegee deur die Proteas op 234 vir nege te laat toe die boulbeurte opgeraak het. Smith het die tuisspan se enigste ses gemoker.

Geskiedenis is hierna gemaak toe Hafeez die eerste speler in internasionale krieket geword het wat uitgegee is omdat hy obstruksie met ‘n uithardlooppoging gepleeg het.

Na nog twee vinnige paaltjies het Ul-Haq hom by die geduldige aanvanskolwer Farhat gevoeg, en ook ‘n kapteinsbeurt van 80 gespeel. Na sy vertrek het die paaltjies vinnig begin val, en toe Farhat op 93 sy paaltjie kwyt was, was die wedstryd vir ‘n kort rukkie op sy kop omgekeer. Malik met 19 onoorwonne lopies het die oorwinning egter weer maklik laat lyk.

Die laaste wedstryd van die toer vind Sondag in Benoni plaas, en die wenner sal ook die reeks beklink. Volgens die weervoorspelling kan menere Duckworth en Lewis Sondag saamspeel en die wedstryd nog interessanter maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.