Krim-krisis kan Paralimpiese Winterspele in Sotsji knou

‘n Russiese soldaat in die Krim-skiereiland gereed. Foto: Reuter

‘n Russiese soldaat in die Krim-skiereiland gereed. Foto: Reuter

Met die Paralimpiese Winterspele wat Vrydag in Sotsji in Rusland begin, neem internasionale druk toe op die 44 lande wat gaan deelneem om die spele te boikot.

Die oproepe verskerp namate dit duidelik word dat Rusland sy aggressie teen die Oekraïne uitbrei. Volgens die jongste berigte is Rusland besig om gewapende magte langs die grens tussen die Krim-skiereiland, wat reeds effektief deur Rusland beset word, en die Oekraïne op te stel. Dit sluit pantservoertuie in.

Die oproepe tot dusver is nie dat die atlete wegbly nie, maar dat regerings hulle daarvan moet weerhou om amptelike afvaardigings te stuur.

In dié stadium sal die Britse premier, David Cameron, nie na Sotsji reis nie. Sy minister van buitelandse sake, William Hague, het reeds die gebeure as die ernstigste bedreiging vir die 21ste beskryf.  Die Nederlandse minister van sport, Edith Schippers, sien egter nog geen rede om weg te bly nie. Die Nederlandse regering loop steeds in die media deur omdat die regering so ‘n groot afvaardiging met die Olimpiese Winterspele, wat die premier, die koningspaar en die minister ingesluit het, na Sotsji gestuur het.

Druk word ook op die Kanadese regering uitgeoefen om nie te gaan nie.

Sotsji en die Krim-skiereiland is aan die kus van die Swart See.

Die G8-beraad vind ook in Junie in Sotsji plaas. Dié land, met die uitsondering van Rusland, boikot reeds die voorbereidings hiervoor.

Bronne: Trouw, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.