Krokodil byt hengelaar dood terwyl hy vriend probeer red

ʼn Hengelaar van Zimbabwe is deur ʼn krokodil doodgebyt nadat hy probeer het om sy vriend uit ʼn ander krokodil se kake te red.

Volgens die Nasionale Hengelaarsunie het Frank Trott, ʼn man in sy sewentigs, sy vriend te hulp gesnel toe hy besef het dié word deur ʼn krokodil aangeval terwyl hy by die Charara-hengelaarskamp aan die Karibameer deur heupdiepte water gestap het. ʼn Ander reusekrokodil wat in lang gras op die wal gelê het, het Trott aangeval en weggesleep. Oorblyfsels van sy liggaam en klere is later gevind.

Trott se vriend, ʼn man in sy veertigerjare, het oorleef, maar is behandel vir beserings aan sy middellyf en boude. Natuurbewaarders het ná die aanval twee krokodille doodgeskiet.

Volgens Mike Brennan, hoof van die hengelaarsgroep waarvan Trott en sy vriend deel was, het die twee vriende ná ʼn hengeluitstappie op die meer na die hengelaarskamp teruggekeer vir drankies en aandete.

Die Karibameer, ʼn mensgemaakte hidro-elektriese dam van ongeveer 300km lank, is ʼn uiters gewilde bestemming vir hengel, bootritte en wildkyk. Die omgewing is bekend as ʼn habitat vir onder meer seekoeie en krokodille.

ʼn Roudiens vir Trott is vir eerskomende Vrydag geskeduleer.

Die aanval op Trott en sy vriend is die tweede dramatiese krokodilaanval binne ʼn maand in dié omgewing, het Brennan gesê.

“Besoekers aan die meer moet ten alle tye versigtig wees wanneer hulle naby die oewer van die meer is. Dis ʼn baie gevaarlike omgewing,” het hy gesê.

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Nuus, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.