“Krokodil wat vrou vang was ʼn reus”

Thys en Dorette Cronje

Thys en Dorette Cronjé

Die krokodil wat die dogter van Dorette en Thys Cronjé, ʼn bejaarde sending-egpaar van die sendingstasie Motopi in Botswana, Maandag aangeval en doodgebyt het, was volgens ooggetuies reusagtig.

Maroela Media het vroeër Dinsdag berig hul dogter, Danelle (in haar 30s), is Maandag deur ʼn krokodil by Shakawe by die Okavango-rivier aangeval. Lees meer hier.

Ds. Malan van Ryn, ʼn predikant van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Noord wat die egpaar jaarliks besoek, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Danelle is geskei en was saam met haar 12-jarige dogter, Arielle, en vriende by Shakawe vir ʼn vakansie. “Danelle woon in Maun en was saam met vriende by die rivier,” het ds. Van Ryn gesê.

Volgens Ryn het Arielle en ʼn maatjie gestaan en visvang toe Danelle by hulle gaan staan het. “Dit was glo baie warm. Danelle het in die rivier in geloop en in baie vlak water gaan sit om af te koel. Die volgende oomblik het ʼn reuse krokodil haar gegryp. Die breedte van die krokodil se rug was omtrent ʼn meter.”

Die krokodil het haar gegryp en in die diep water ingetrek. Volgens Van Zyl soek plaaslike owerhede nog na Danelle se liggaam.okavango

Thys (in sy 80s) is Danelle se stiefpa. Thys en Dorette (in haar 70s) het mekaar sowat 20 jaar gelede tydens ʼn toer in Botswana ontmoet. Albei was in daardie stadium enkellopend. “Thys het die pap vir die toergroep gemaak en Dorette was die toergids. Ná hul ontmoeting het hulle getrou en ʼn sendingpos en gemeente in Motopi gestig. Die sendingpos word deur verskeie Suid-Afrikaanse gemeentes ondersteun en befonds. Daar sorg hulle vir sowat 100 weeskinders, waarvan baie vigs het,” het Van Zyl bygevoeg. Dorette is aanvanklik in Botswana gebore, maar het na Suid-Afrika verhuis en Suid-Afrikaanse burgerskap gekry. Volgens Van Zyl het sy in ʼn stadium Tswana-onderrig aan die Noordwes-kampus van die Potchefstroomse Universiteit gegee.

“Hulle is baie erg getraumatiseer deur die voorval. Arielle is tans in hulle sorg.”

Lees ook:
Krokodil byt sending-egpaar se dogter voor kleinkind dood

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.