Krokodilboer vir klein hokkies beboet

Argieffoto

Coen Labuschagne, ‘n krokodilboer van KwaZulu-Natal is met R290 000 beboet nadat hy glo afsonderlike hokke vir die diere gebou het sonder om die nodige omgewingsimpakstudie te doen.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het in 2012 bevind dat Labuschagne, die eienaar van Metcroc-plaas in Pongola, sowat 200 krokodille in haglike toestande aanhou, het Beeld berig. Labuschagne het glo die krokodille in hokke aangehou wat te klein was, te vlak was en geen beskerming teen die elemente gebied het nie.

Die reptiele is glo vir tot drie maande geïsoleer om hul bewegings te beperk en te verhoed dat hulle nie in gevegte met mekaar beland nie. Dít sou glo verseker dat hulle velle nie beskadig word voordat hulle geslag word nie. Die NDBV het Labuschagne dienooreenkomstig beboet en hy het appèl aangeteken teen die boete.

Nazareth Appalsamy, inspekteur van die NDBV, het gesê Labuschagne het sedertdien nog 1 500 krokodille bygekry. Dié krokodille word glo almal in dieselfde hokke aangehou om uiteindelik geslag te word sodat hul velle vir die leerhandel verkoop kan word.

“Ons is intussen in kennis gestel dat die krokodille nie net vir drie maande nie, maar tot vir ses of sewe maande lank in die hokkies aangehou word,” het Appalsamy bygevoeg. Die departement van landbou en omgewingsake het die boete uitgereik.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.