Krugerwildtuin antraks-uitbreking onder beheer

Die antraks-uitbreking wat die dood van minstens 30 bastergemsbokke in die noorde van die Krugerwildtuin veroorsaak het, is glo onder beheer gebring. Maroela Media het Dinsdag berig die bokke se karkasse is naby Mopani, in ʼn kamp wat spesiaal vir teling ingerig is, ontdek. Die bokke het vermoedelik as gevolg ʼn antraks-uitbreking, soos wat dit normaalweg van tyd tot tyd hierdie tyd van die jaar plaasvind, gevrek.

William Mabasa, ʼn woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Parkeraad (Sanpark), het Woensdag gesê die uitbreking het nie na ander areas versprei nie en geen ander bokke het gevrek nie.

“Wildbewaarders hou steeds die situasie fyn dop. Die 30 karkasse is verbrand en die res van die bastergemsbokke gaan inentings kry. Bastergemsbokke is ʼn seldsame spesie en ons moet hulle bewaar,” het hy gesê. Mabasa het Dinsdag gesê daar is omtrent net 100 van die bokke in die park en om 30 van hulle te verloor kan ʼn geweldige impak op die totale bevolking hê.

Antraks, oftewel miltsiekte, is ’n spoorvormende bakterie (Bacillus anthracis) wat dodelik is vir diere en mense. Mense word versoek om nie aan enige karkasse te raak nie. “As enigiemand ʼn dooie dier sien moet hulle dit by die naaste kamp aanmeld,” het Mabasa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.