Krugerwildtuin soek Mosambiek-grensheining terug

Argieffoto

SANParke het versoek dat die grensheining tussen die Krugerwildtuin en Mosambiek weer opgerig moet word in ’n poging om renosterstropery te beveg.

Dit volg nadat daar Woensdag bekend gemaak is dat nagenoeg 150 renosters al sedert die begin van die jaar vir hul horings doodgemaak is. Volgens Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, is die Krugerwildtuin die ergste hierdeur getref met 107 renosters wat vanjaar doodgemaak is. Altesaam 50 verdagtes is in verband met renosterstropery reeds sedert Januarie in hegtenis geneem.

“SANParke het die minister van omgewingsake, Edna Molewa, weer versoek dat die grensheining tussen Suid-Afrika en Mosambiek heropgerig moet word,” het David Mabunda, uitvoerende hoof van SANParke, gesê.

Molewa het reageer en gesê die heroprigting sal slegs oorweeg word nadat ’n volle analise van die stropingsituasie in die Krugerwildtuin gedoen is en opgeweeg word met die “positiewe resultate” wat gekry is met die verwydering van die heining. Die heining is verwyder om die Groter Limpopo Oorgrenspark tussen die Krugerwildtuin en die Limpopo nasionale park in Mosambiek te vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.