Kuba in sop oor wapens na Noord-Korea

Die Noord-Koreaanse skip (swart geverf) in Colon, Panama. Foto: AP

Kuba het glo ‘n wapenvonds aan boord van ‘n Noord-Koreaanse skip in Panama as niksseggend probeer afmaak.

Die wapens was van Kuba onderweg na Noord-Korea, teen wie ‘n selektiewe internasionale wapenverbod geld, toe die vrag van sowat 240 ton wat onder ‘n vrag suiker versteek was, gevind is. Die skip is deursoek voor dit deur die Panamakanaal sou vaar. Volgens Kuba was dit ‘n ou, uitgediende wapentuig wat na Noord-Korea gestuur is om herstel te word, en sou weer terug na Kuba gestuur word om die Kommunistiese eilandstaat te help om sy soewereiniteit te verdedig.

Die vrag het volgens Kuba twee lugafweermissielstelsels, dele van nege missiele, twee MIg21’s en 15 enjins vir dié vliegtuie. Volgens Europese koerante dateer dié wapentuig uit die tyd van die Sowjetunie. Dit was nie heeltemal duidelik of die wapens binne die VN se verbod val nie.

Politici in die VSA beskou dit egter as ‘n verbreking van die wapenverbod, en sê dit dien as bewys dat Kuba ‘n muishondland is.

‘n Senior militêre afvaardiging van Noord-Korea het Kuba teen die einde van Junie besoek, en die media bespiegel oor ‘n moontlike verband.

Die wapens was nie as deel van die vrag verklaar nie, en volgens die Panamese owerhede het die bemanning alles in hul vermoë gedoen om die soektog na die wapentuig te probeer bemoeilik. Die skip se kaptein wou glo ook selfmoord pleeg.

Die VSA beplan om verslag van die VN oor die wapenvonds te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.