Kuberkrakers maak amok op Aarto-webwerf

Kuberkrakers het vandeesweek letterlik hul merk op Aarto se webwerf, waar motoriste boetes kan betaal, gemaak.

Ruan Lombard, ’n IT-bestuurder van Pretoria, het vroeër die week van dié kuberkrakery op ʼn forum gelees, het Beeld Donderdag berig.

Lombard het die webwerf se administrateur gewaarsku om hul sekuriteit op te skerp. ʼn Humoristiese deuntjie en ʼn prentjie van ʼn onheilspellende Rooikappie het op www.aarto.gov.za se tuisblad vertoon. Die kuberkraker identifiseer homself as Red X.

Volgens Lombard wil dit voorkom of die gratis Joomla!-inhoudbestuursplatform, gebruik is om die webwerf te ontwikkel. Hy se egter die kuberkraker sou nie noodwendig vertroulike inligting kon bekom nie.

JP Lishman, ’n senior stelsel­administrateur, het aan Beeld gesê dit is belangrik dat hoëprofiel-webwerwe goeie sekuriteit het. “Daar is tegnologie wat gebruik kan word om so iets te verhoed, maar dit is baie maklik vir kuber­krakers om toegang tot gratis platforms soos Joomla! te bekom,” het Lishman gesê.

Fakazi Malindziza, woordvoerder van die Padverkeersmisdryfagentskap, het die voorval bevestig, maar gesê daar is geen vertroulike inligting op die webwerf beskikbaar nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.