Kuberkrakers ontbloot sensitiewe SAPD-inligting

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hou Woensdagmiddag ʼn perskonferensie om kommentaar te lewer nadat kuberkrakers verledeweek toegang tot hul webwerf gekry het.

Honderde bronne, fluitjieblasers en misdaadslagoffers se vertroulike inligting was tydens dié periode op die webwerf vir die publiek beskikbaar. eNCA het Vrydag berig die identiteit van nagenoeg 16 000 Suid-Afrikaners wat klagtes by die polisie aanhangig gemaak het, of misdaadwenke verskaf het, se inligting was toeganklik vir die publiek.

Die kuberkrakers het op Twitter aangedui die rede was om die lot van 34 mynwerkers, wat verledejaar in ʼn skermutseling met die polisie in Marikana doodgeskiet is, uit te lig.

“Swak sekerheid van die polisie se webwerf is die oorsaak dat kuberkrakers meer as 15 700 fluitjieblasers se identiteit aan die wêreld bekend kon maak. Fluitjieblasers se identiteitsnommers, telefoonnommers en e-posadresse is nou openbaar en skep ’n veiligheidsrisiko vir die betrokke partye. Dit beteken dat swak maatreëls op die polisie se webwerf toegepas is en die polisie moet volle verantwoordelikheid aanvaar,” het Pieter Groenewald, woordvoerder vir polisie van die Vryheidsfront Plus, Woensdag gesê.

“Fluitjieblasers is geweldig kwesbaar omdat misdadigers hulle teiken en selfs vermoor om te verhoed dat hulle in die hof skuldig bevind word. Weens die swak beskerming van die polisie is fluitjieblasers se persoonlike besonderhede nou bekend aan misdadigers. Sou ’n fluitjieblaser as gevolg hiervan skade berokken word, sal hulle ’n eis teen die polisie kan instel waarvoor die belastingbetaler weer sal moet opdok,” het Groenewald bygevoeg.

’n Volledige lys van fluitjieblasers is deur eNCA afgelaai en hulle kon met die inligting direk met fluitjieblasers in verbinding tree.

“Dit is voorvalle soos dié wat die publiek se vertroue in die polisie net nog verder skaad,” het Groenewald bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.