Kubermisdaad ʼn “nasionale krisis”

Dave Loxton Foto: Werner Beukes/SAPA

Dave Loxton Foto: Werner Beukes/SAPA

Kubermisdaad is ʼn nasionale krisis wat die land jaarliks ʼn miljard rand uit die sak jaag, het ʼn prokureursfirma Woensdag gesê.

Die FBI in Amerika het aangedui dat Suid-Afrika die sesde mees aktiewe land is waar kubermisdade gepleeg word. “Informele konsensus binne die privaatsektor plaas Suid-Afrika derde ná Rusland en China,” het Dave Loxton, hoof van besigheidsmisdaad en forensiese dienste by Werksmans-prokureurs, gesê.

Na raming is die opbrengs uit kubermisdaad veel meer as alle ander vorme van witboordjiemisdaad tesame.

Kubermisdaad is enige misdaad wat gepleeg word met ʼn rekenaar of die internet. “Suid-Afrika is veral vrugbare grond vir kubermisdaad weens sy wettelose samelewing en kubermisdaadsindikate wat weet dat die wetstoepassing papierdun is,” het Loxton gesê. “Die kans dat hulle dus in hegtenis geneem gaan word en suksesvol vervolg gaan word, is baie laag.”

Kubermisdadigers werk glo gewoonlik in sindikate en word bedryf soos ʼn besigheid. Kubermisdaad kan ook gekoppel word aan ander onwettige praktyke soos dwelmhandel en mensehandel.

“Dié tipe misdadigers is hoogs intelligent en gesofistikeerd. Dit is ʼn nasionale krisis,” het Loxton bygevoeg.

Die regering en privaatsektor moet eerstens erken dat daar ʼn probleem is en hulpbronne beskikbaar stel om dit hok te slaan. Die samelewing moet erken dat die bedreiging van kubermisdaad bestaan en hul “gesonde verstand” gebruik. Die regering moet die polisie en staatsaanklaers oplei hoe om kubermisdadigers suksesvol te ondersoek, in hegtenis te neem en hulle te vervolg deur kubermisdaad voor ʼn regter te kan verduidelik.

Die privaatsektor moet intern oor die nodige vaardighede beskik om moontlike bedreigings te hanteer en maatreëls in te stel om hul blootstelling te verminder. Dit is ʼn moontlike bedreiging indien werknemers hul eie toestelle saambring werk toe en dit moet ook in ag geneem word.

Volgens die Norton-sekuriteitsfirma gaan sowat US$110 miljard jaarliks verlore weens kubermisdaad.

“Dit het by kuberkrakers begin wat net pret gehad het, en toe het mense besef hulle kan ʼn fortuin hieruit maak. Die hele bedryf het verander,” het Loxton gesê.

Een van die nuwe neigings waarvoor mense versigtig moet wees, is die misbruik van sosiale media. Ongeveer 600 000 Facebook-rekeninge word daagliks blootgestel en 1.5 miljoen mense word daagliks slagoffers van kubermisdaad – dit is 18 mense per sekonde.

“Die grootste kommer is dat dit gewoonlik gebeur wanneer mense nie hul gesonde verstand gebruik nie,” het Loxton gesê. “Moenie eenvoudige wagwoorde soos verjaarsdae, vanne en ander inligting gebruik wat maklik bekombaar is vir ʼn kubermisdadiger nie. Kriminele weet mense kies wagwoorde wat maklik is om te onthou.”

Alhoewel mense seker maak dat hulle internetsekuriteit en antivirusprogrammatuur op hul rekenaars het, vergeet hulle van hul slimfone, tabletrekenaars en ander mobiele toestelle wat gebruik word vir sosiale media, besigheid en kommunikasie.

Volgens Loxton is Suid-Afrika se bankbedryf egter “uitstekend”. Die meeste groot banke het sterk interne forensiese dienste. Die probleem lê by die kliënte. “Ek dink ons banke is uitstekend. Hulle kan egter nie verantwoordelikheid aanvaar wanneer klante dom dinge aanvang nie,” het Loxton gesê.

“Die raad is daar, hulle kan nie klante teen hulself beskerm nie. Jy kan mense nie beskerm teen hul eie gretigheid en dwaasheid nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.