Kunsroof “fyn beplan”

JH Pierneef se “Eland and bird” wat ook gesteel is.

Die multimiljoenrandse roof by die Pretoria Kunsmuseum was moontlik fyn beplan deur ‘n spesifieke kunshandelaar.

Drie mans het werknemers by die museum met ‘n vuurwapen aangehou en vyf skilderye, ter waarde van sowat R17 miljoen, gebuit. Een van die mans het homself aanvanklik glo as ‘n kunsonderwyser voorgedoen en die ander twee as studente. Hulle het die werknemers oor spesifieke kunswerke uitgevra, berig EWN.

Kaal mure en wit merke is nou al wat te sien is waar die onvervangbare skilderye eens gehang het. Pieter de Necker, woordvoerder vir die Tshwane-munisipaliteit, het gesê die verdagtes het ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en is met die skilderye daar weg. Hy het gesê die museum se toesigstelsel het ‘n paar dae vantevore ophou werk. Volgens De Necker is Interpol ook van die diefstal in kennis gestel.

Kunskenners het gesê dit is ‘n knou vir die kunsgemeenskap en ‘n terugslag vir die opvoedkunde. Ishmael Mbhokodo, kurator by die museum, het gesê talle studente maak staat op die museum. “Hulle kom hierheen om oor die basiese beginsels van kuns, waardering, tegniese vaardighede en so aan te leer. Dit is ‘n geweldige verlies vir die gemeenskap in die opvoedkundige sektor,” het Mbhokodo gesê.

Die City of Tshwane het gesê vyf kunswerke is tydens die rooftog gebuit: Irma Stern se Fishing Boats (1931), JH Pierneef se Eland and bird (1961), Gerard Sekoto se Street scene, Maggie Laubser se Cat and Petunias (1936) en Hugo Naudé se Hottentot Chief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.