Kunswerk van ontblote Zuma het land aan’t gons

Die veelbesproke kunswerk van kunstenaar Brett Murray. Foto gesensor.

Die ANC is woedend oor ʼn kunstenaar se kunswerk wat president Jacob Zuma ‘ontbloot’ en het hul regspan gevra om die howe te nader om die kunstenaar te dwing om die kunswerk te verwyder en alle promosiemateriaal daaroor te vernietig.

Die kunswerk is geskep deur Brett Murray, ‘n kunstenaar van Kaapstad, en word tans in die Goodman Galery in Johannesburg uitgestal. Die uitstalling se tema is Hail to the Thief II. Die kunswerk beeld Zuma uit met ʼn oop gulp en sy privaatdele ontbloot en is reeds vir R136 000 verkoop.

“Die ANC is woedend en ontwaardig oor die onsmaaklike en aanstootlike manier waarop die president uitgebeeld word. Die sogenaamde kunswerk krenk die beeld en waardigheid van nie net die president van die ANC nie, maar ook die president van die land.  Sy menswees word deur die kunswerk afgekraak. Ons is van mening dat die onsmaaklike uitbeelding sy individuele konstitusionele reg tot waardigheid skaad. Die ANC glo in die vryheid van die pers en kunstenaarsvryheid, maar hierdie vulgêre uitbeelding maak misbruik van dié vryheid en is lasterlik,” het hulle Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Murry het tydens ʼn onderhoud met ʼn dagblad gesê: “Die vraag wat almal my vra, is: ‘Is jy nie bang nie?’. Ek het nie eens daaraan gedink om bang te wees nie. Moes ek? Is dit deel van die gemeenskaplike bewussyn dat ons nie ons leiers kan kritiseer nie?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanya Laubscher ·

Wat wou hulle gehad het, van al die fisiese en geestelike kwaliteite tot `n mens se beskikking, wat moes die kunstenaar uitbeeld. Onthou `n kunstenaar kan net werk met wat hy het (as hy getrou en eerlik is). Wat kon hy uitbeeld: Liefde, lankmoedigheid, vrygewigheid, mededeelsaamheid, integriteit, nederigheid… Die lys is eindeloos, maar wat kom op in die kunstenaar se kop. Dieselfde as in myne wanneer jy van die ANC se president praat! Beskryf ons president met een woord…uhum…net een ding kom op. Lanklaas het `n kunstenaar die spyker so reg op die kop geslaan. Bloot te oordeel aan die reaksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.