KVBA doen beroep op vakbonde en Telkom om verder te onderhandel

Solidariteit en ander vakbonde sal weer volgende week met Telkom vergader nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ʼn beroep op die partye gedoen het om weer te onderhandel nadat loononderhandelinge vroeër op ʼn dooiepunt uitgeloop het. Solidariteit het intussen beklemtoon dat ʼn staking die laaste uitweg sal wees en dat ’n poging eerder aangewend moet word om ʼn vreedsame oplossing rondom die onderhandelingstafel te vind.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê Telkom en die vakbonde sal op 12 Junie met onderhandelinge voortgaan, waarna die saak weer op 24 Junie deur ʼn kommissaris by die KVBA aangehoor sal word. “Telkom volstaan by sy aanbod van ʼn 6%-verhoging as deel van ʼn driejaarooreenkoms. Die telekommunikasiereus volstaan ook met die weglating van die voorwaarde dat geen gedwonge afleggings in die drie jaar sal plaasvind nie. Ons is ongelukkig hiermee, aangesien ons reeds die gewysigde aanbod, waarby dié voorwaarde ingesluit was, aan ons lede voorgelê het om ʼn mandaat van hulle te verkry. Ons is bekommerd dat die weglating van dié voorwaarde tot gedwonge afleggings kan lei. Ons is egter steeds meer as bereid om met Telkom te onderhandel en sal enige billike aanbod van die werkgewer aan ons lede voorlê.”

Die loongeskil tussen Telkom en die vakbonde is gister deur die KVBA aangehoor nadat die vakbonde Telkom se finale loonaanbod van ʼn 1,5%-verhoging verwerp het. Telkom het egter die gewysigde loonaanbod aan die vakbonde voorgelê voor die saak by die KVBA aangehoor is. Onderhandelinge rakende die gewysigde aanbod het ook vroeër die week op ʼn dooiepunt uitgeloop nadat Telkom voorwaardes van sy gewysigde loonaanbod teruggetrek het te midde van ’n proses om mandate van werknemers oor dié nuutste aanbod te ontvang.

Telkom het reeds vroeër ʼn proses begin om vrywillige skeidingspakkette en vrywillige vroeëaftredepakkette vir sy hele werksmag van nagenoeg 21 000 aan te bied. Croucamp sê Solidariteit het verneem dat meer as 1 500 werknemers reeds pakkette aanvaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.