Philippe Croizon, ʼn kwadrupleeg en bekende swemmer, gaan met sy elektriese rolstoel herenig word nadat dit oor die naweek gesteel is.
ʼn Man het glo met Croizon in verbinding getree nadat hy van die gesteelde rolstoel te hore gekom het. “Ek gaan my rolstoel Donderdagoggend kry,” het Croizon Dinsdag op Twitter laat weet.
ʼn Busbestuurder, wat die rolstoel verlate in ʼn parkeerarea opgespoor het, het nie geweet aan wie dit behoort nie, totdat hy die berig oor die radio gehoor en op televisie gesien het. Hy het Maandagaand met Croizon in verbinding getree.
Maroela Media het Maandag berig Croizon (45), wat nie arms of bene het nie, het verlede week by vriende in Dieppe, Frankryk, tuisgegaan toe diewe ʼn sleepwa met sy pasgemaakte rolstoel in gesteel het. Klik hier om meer te lees.