Kwytgeskeldes: 47 weer agter tralies

James Selfe, die DA se woordvoerder oor korrektiewe dienste, het gesê gevangenes kos die belastingbetaler sowat R5 000 ʼn maand meer as diegene wat maatskaplike toelaes kry.

RSG berig altesaam dat 47 oud-oortreders wat kragtens die presidensiële kwytskelding vrygelaat is, intussen weer agter tralies is.

Zuma het in sy Vryheidsdag-toespraak of 27 April die land meegedeel dat sowat 35 000 gevangenes se tronkstraf verminder sal word. Dít sluit veroordeelde gevangenes in, asook dié op parool en onder korrektiewe toesig. Die kwytskelding, wat op 14 Mei begin het, raak sowat 20 000 mense wat op parool en onder korrektiewe toesig is en meer as 14 000 ander gevangenes. Zuma het toe verduidelik dat die proses gedoen word om oorbevolking in tronke te verminder. Veroordeelde moordenaars, verkragters en dwelmhandelaars het nie vir die spesiale vergunning gekwalifiseer nie.

Selfe en Denis Bloem, COPE se woordvoerder, het gesê die oortreders van geringe misdade behoort in die eerste plek nie tronktoe gestuur te word nie, maar tot gemeenskapswerk gevonnis te word.

Bloem het op sy beurt gesê hy is nie verbaas dat oortreders weer misdaad pleeg nie, omdat hulle baie meer tuis is in die tronk. Hy het gesê tronke is deesdae meer soos hotelle en gevangenes kry drie etes per dag. Hy het gesê vrygelate gevangenes doen dikwels iets onbenulligs net om weer terug te gaan tronk toe waar hulle slaapplek en kos kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.