KZN-dokters verwaarloos pasiënte

Nagenoeg ʼn 101 KwaZulu-Natalse dokters het sowat R22 miljoen van mediese fondse geëis vir privaat werk wat hulle verrig het terwyl hulle glo na pasiënte in staatshospitale moes omsien.

Die Sunday Tribune berig dat ʼn verslag wat aan die provinsiale departement van gesondheid voorgelê is toon dat pasiënte in staatshospitale erg verwaarloos word. Volgens die verslag doen voltydse staatsdokters privaat operasies maar eis hulle ook miljoene rande se oortyd van staatshospitale. KwaZulu-Natalse staatsdokters mag nie werk buite hulle amptelike pligte verrig of staatshulpbronne hiervoor gebruik nie maar tog het die verslag bevind dat 354 staatsdokters privaatlisensies het.

Volgens die verslag is pasiënte in staatshospitale erg verwaarloos tussen Junie 2011 en Junie verlede jaar weens dokters wat privaat werk gedoen het. Wanneer die bedrae wat van mediese fondse geëis is in ag geneem word, is dit onmoontlik dat staatsdokters ʼn 40 uur week werk met oortyd maar tog eis hulle steeds daarvoor. Die R22 miljoen se eise is slegs van een mediese fonds en die eindbedrag is na verwagting veel hoër. Sibongile Zungu, hoof van die provinsiale departement van gesondheid, het die verslag se bevindinge bevestig. Sy het aan die Sunday Tribune gesê dat die departement sal regstappe neem om die geld wat van mediese fondse geëis is terug te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.