KZN mors glo miljoene op jazz-fees

Die regering in KwaZulu-Natal het R28 miljoen vir ‘n jazz-musiekfees in Durban betaal wat nooit plaasgevind het nie, het die Sunday Tribune Online berig.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme poog om ‘n deel van die geld terug te kry. Die departement het verlede jaar Junie ‘n ooreenkoms met ‘n konsortium aangegaan om die internasionaal bekende North Sea Jazz-musiekfees aan te bied.

Die fees het nie, soos geskeduleer, in November plaasgevind nie weens ‘n dispuut tussen die feesorganiseerders, Mojo wat die regte vir die fees besit, en die departement. Die Sunday Tribune berig verder dat die departement R28 miljoen betaal het, waarvan R16.9 miljoen spandeer is sonder dat die fees plaasgevind het.

Die byeenkoms is gekanselleer en die departement het op ‘n terugbetaling van ongeveer R11 miljoen aangedring wat deur Charmaiine Cornille, een van die organiseerders, gebruik sou word om die regte vir die fees van Mojo te bekom. Mojo voer aan hy is nooit betaal vir die regte nie.

Die department het ‘n ooreenkoms aangegaan met die MPM/Softskills-konsortium. Cornille was een van MPM se eienaars. MPM is later deur die Profile Communication vervang, wat ook aan Cornille behoort. Cornille ontken eise dat haar rol in die projek daartoe gelei het dat die fees gekanselleer is. “Ek is ‘n fluitjieblaser in dié saak en ek het die provinsiale tesourie in kennis gestel van die bedrog en korrupsie wat plaasgevind het,” het sy gesê.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.