KZN-munisipaliteit konfiskeer grimering

Die eThekwini-munisipaliteit het Donderdag op grimering beslag gelê, wat nie net onwettig ingevoer is nie maar ook bestanddele vat wat 'n mens se vel kan brand. Foto: onsugar.com

Die eThekwini-munisipaliteit in Durban se gesondheidseenheid het Donderdag beslag gelê op grimering wat onwettig ingevoer is. Dié grimering het ook bestanddele bevat wat deur die wet op Voedsel, Grimering en Ontsmettingsmiddele gevaarlik verklaar is en waarvan die gebruik reeds vir ʼn hele aantal jare in Suid-Afrika verban is.

“Die bestanddele word gewoonlik gebruik om ʼn mens se vel ligter te maak maar dit kan lei tot brandwonde en onherstelbare skade,” het die munisipaliteit se woordvoerder, Thabo Mofokeng, verduidelik. Mofokeng het verder gesê die grimeermiddels is by ʼn algemene handelaar en verskeie straatverkopers in Tongaat en Verulam gevind. “Dit lyk of die grimering onwettig van lande soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Egband en die Ivoorkus ingevoer is,” het hy gesê.

Mofokeng het gewaarsku indien jy die grimering sou gebruik, dit ʼn kors op jou vel kan vorm wat later sal afskilfer. Die vel kan ook rooi word en jeuk terwyl ernstiger reaksies op die bestanddele simptome soos borspyn, asemhalingsprobleme en swelling insluit. – Sapa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.