Laaste groepe by Uniegebou toegelaat

Roubeklaers by die Uniegebou Foto: James Oatway/Sunday Times/SAPA

Roubeklaers by die Uniegebou Foto: James Oatway/Sunday Times/SAPA

ʼn Paar laaste groepe roubeklaers is Vrydag omstreeks 17:00 by die Uniegebou toegelaat om oud-president Nelson Mandela te sien waar hy in staatsie lê.

ʼn Aantal mense het vroeër deur ʼn polisielint gebars toe die hek om 16:20 oopgemaak het nadat dit vroeër gesluit is. Die polisie het vinnig beheer geneem van die situasie en mense het daarna kalm in groepies van twee beweeg.

Die polisie het die hekke vroeër in Governmentlaan gesluit nadat die regering aangekondig het dat kapasiteit vir die dag bereik is. Toe die mense egter ontdek die hekke is weer oop, het die skare weer begin tou staan.

Dit was die derde en finale dag waarop mense Mandela se liggaam kon sien.

Die drie parkeer-en-ry-fasiliteite het Vrydagoggend net na 11:00 reeds gesluit.

Daar was byna ʼn stormloop by die Pretoria Skougronde toe die roubeklaers gehoor het dat geen verdere vervoer beskikbaar gemaak gaan word nie. Mense het probeer om deur die hek te druk en ʼn sewejarige dogtertjie het geval en is byna deur die ontstoke skare vertrap. Sy het ongedeerd daarvan afgekom.

Die stad Tshwane het gesê sowat 20 000 mense het Donderdag in ʼn ry gestaan om hul laaste eer te betoon aan Mandela. Volgens Phumla Williams, woordvoerder vir die regering, het tussen 12 000 en 14 000 mense Woensdag opgedaag.

Mandela is in die ouderdom van 95 op 5 Desember 2013 by sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede.

Sy liggaam word Saterdag na die Oos-Kaap vervoer waar hy Sondag tydens ʼn staatsbegrafnis in Qunu begrawe sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.