Laaste sien van Brittanica ensiklopedie-reeks in boekvorm

Die Ensiklopedie Brittanica, wat reeds 7 miljoen eksemplare verkoop het, het aangekondig dat hulle ná 244 jaar nie meer die 32-volume boekweergawe gaan druk nie en dat dit voortaan slegs elektronies beskikbaar sal wees.

“Die ensiklopedie-reeks sal steeds in ʼn verskeidenheid van elektroniese weergawes beskikbaar wees,” het Brittanica Woensdag op hul webwerf aangekondig. Die firma, wat hul ensiklopedieë eers deur-tot-deur verkoop het, verdien ongeveer 85% van sy inkomste uit aanlynverkope. Die maatskappy het ook aangedui dat hulle op digitale uitbreiding sal fokus midde kompetisie van webwerwe soos Wikipedia. Britannica se eerste uitgawe was in 1768. “Die verkope van gedrukte ensiklopedieë het die afgelope paar jaar baie afgeneem,” het Jorge Cauz, president van Encyclopaedia Brittanica Inc. gesê. Hul hoofkantoor is in Chicago, Amerika gebaseer.

“Ons is dalk nie so groot soos Wikipedia nie, maar ons het ʼn opvoedkundige stem, ʼn redigeringsproses, en artikels wat op feite gebaseer is en van hoogstaande gehalte is,” het Cauz Woensdag aan die Guardian-dagblad gesê. “Ons glo dat al hierdie elemente baie, baie belangrik is en bied ʼn alternatief wat ons aan so veel mense as moontlik beskikbaar wil stel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.