“Laat Joemat-Pettersson met rus” – departement

Tina Joemat-Peterson

Tina Joemat-Peterson

Die departement van visserye het Dinsdag gesê daar is geen gronde vir pres. Jacob Zuma om dissiplinêre stappe te doen teen minister Tina Joemat-Pettersson nie.

Die departement het reageer op ʼn bevinding deur die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, dat daar onreëlmatighede was met ʼn R800 miljoen-tender vir vissery-patrolliedienste aan Sekunjalo Marine Service Consortium (SMSC).

Die departement voer aan die bewerings teen Joemat-Pettersson het niks te doen met die tender nie.

Madonsela het voorgestel dat Zuma stappe doen teen die minister. Sy het bevind dat die minister “roekeloos” was in haar hantering van staatsgeld en -dienste en dat dit neerkom op ʼn vrugtelose vermorsing van uitgawes, ʼn afname in die vertroue van die vissery-bedryf, beweerde uitdunning van vissery-hulpbronne en ʼn vertraging in die kwota-allokasie weens ʼn gebrek aan behoorlike navorsing.

“Ons glo dat dié kommentaar bevraagteken moet word, aangesien dit op hoogs bevooroordeelde bewerings en verklarings gebaseer is. Ons verwerp dit as ongegrond,” het die departement gesê.

Volgens die departement het die ouditeur-generaal ʼn skoon oudit aan die departement toegeken vir die betrokke periode wat ʼn bewys is dat daar nie ʼn vermorsing van geld was nie.

Die departement het gesê hy is bereid om met Madonsela te vergader om alle kwessies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Die Ouditeur-generaal en die Openbare Beskermer het ongetwyfeld vanuit verskillende hoeke na die Departement van Visserye gekyk en daarom sal daar sekerlik dan ook twee verskillende verslae moontlik wees.

Die blote feit dat die Ouditeur-generaal ‘n skoon oudit gegee het, maak nog nie die Openbare Beskermer se verslag ongedaan nie. Dit blyk nie asof die Woordvoerder van die Departement hierdie verskil begryp nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.