Laatnag-Gautrain vir een aand

Gautrain

Gautrain

Johannesburg-partytjiegangers kan Saterdag 1 Maart tot laat kuier sonder om bekommerd te wees oor vervoer.

Primedia en Gautrain het bande gesmee om “Gauteng se Groot Aand Uit” van stapel te stuur.

“Die konsep is dat, slegs vir een aand, Gautrain se treine en busse tot laat in die aand beskikbaar sal wees ter ondersteuning van verskeie ontspanningsplekke en aktiwiteite in Gauteng,” het Errol Braithwaite, woordvoerder van die Bombela Konsessiemaatskappy, in ʼn verklaring gesê. “Treine sal op 1 Maart tot na middernag beskikbaar wees en die busse sal passasiers tussen die plekke en die naaste Gautrain-stasie vervoer.”

Dié plekke sluit die Eminem-konsert by Ellispark en die Santana-konsert by die FNB-stadion in. Restaurante, winkels en flieks by Rosebank Mall en The Zone, sowel as aanduitstappies na die Johannesburgse Dieretuin, die Rocky Horror Picture Show, Trevor Noah en Andre the Hilarious Hypnotist by Montecasino is ook hierby ingesluit.

Rugby-ondersteuners sal ook die wedstryd tussen die Leeus en die Bulle by Loftus Versfeld kan geniet sonder om oor vervoer bekommerd te wees.

“Primedia is verheug om, in vennootskap met Gautrain, die ontspanningsaktiwiteite in die provinsie te bevorder,” het Ken Varejes, hoof uitvoerende beampte van Primedia Unlimited, gesê.

Braithwaite sê dit is ʼn wonderlike manier om die maatskappy se stelsel en bedryfsprotokols te toets, om moontlik op ʼn meer gereelde basis die laatnagdienste aan te bied. Hy waarsku egter dat die stelsel gemik is op familielede en dat diegene wat “té uitbundig” is, moontlik weggewys sal word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.