Labrador red Vrystaat-boer se lewe

Argieffoto

Christo Prinsloo (63), ʼn boer van Steynsrus in die Vrystaat, is Donderdag by sy plaashuis met ʼn panga aangeval. Die aanvaller moes egter die hasepad kies nadat Prinsloo en sy Labrador hom bygekom het.

Sers. Thabo Litabe, ‘n polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê Prinsloo was by sy huis, op die plaas Erfpacht, toe die voorval omstreek 13:30 plaasgevind het. “Prinsloo het ʼn geraas binne sy huis gehoor. Hy het ondersoek gaan instel en ʼn onbekende man in sy 30s in die huis betrap. Die man was met ʼn panga gewapen,” het Litabe gesê.

Prinsloo het nader aan die aanvaller beweeg om te verhoed dat dié hom met die panga kan aanval. Die twee het gestoei waartydens Prinsloo se Labrador ook die verdagte aangeval het. Die aanvaller het toe van die toneel gevlug sonder om enigiets te steel.

Prinsloo het beserings aan sy kop, arm en vingers opgedoen en is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal in Kroonstad opgeneem vir behandeling.

Litabe het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Dit is die sewende aanval in die distrik sedert die begin van Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.