Die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) het Maandag aangekondig dat die fietsrylegende Lance Armstrong amptelik van sy sewe Tour de France-titels onteem gaan word.
Volgens Pat McQuaid, voorsitter van die UCI, is die besluit geneem omdat Armstrong prestasieverbeteringsopkikkers gebruik het.
Dit volg nadat Amerika se Agentskap teen Dwelmmisbruik (USADA) Armstrong onlangs daarvan beskuldig het dat hy verbode middels gebruik het om die Tour de France tussen 1999 en 2005 te wen. Armstrong hou vol hy is onskuldig en het die USADA van ʼn heksejag teen hom beskuldig. Volgens Armstrong het hy in sy loopbaan as fietsryer talle toetse vir verbode middels geslaag. Armstrong sê egter hy is uitgeput weens die uitgerekte stryd om sy onskuld te bewys en het besluit om die stryd teen USADA te laat vaar. “Daar is nie ʼn plek vir Armstrong in fietsrysport nie,” het McQuaid Maandag gesê.