‘Landbou sal nie onwettige besetting van grond verdra nie’

Agri SA sê die regering moet nie toelaat dat grondhervorming ondermyn word deur uitsprake wat die onwettige besetting van grond aanmoedig nie.

Agri SA se president, Johannes Möller, sê dié uitsprake blyk aan die toneem te wees. “Opruiende uitsprake gerig op die onwettige besetting van grond neem toe en dit blyk dat die
ANC –leierskap ‘n wag-en-sien benadering inneem. Dit kan natuurlik deel wees van ‘n omvattende en georkestreerde strategie om druk op grondeienaars te plaas ten einde toe te gee aan beleidsinisiatiewe gerig op grondhervorming”, aldus Möller. Möller het bygevoeg dat Agri SA in goedertrou met die regering onderhandel oor die aangeleenthede vervat in die Groenskrif op Grondhervorming en verwag gevolglik van die regering om nie hierdie ordelike proses deur onverantwoordelike uitlatings, deur spesifiek ook die ANC Jeugliga, te laat ondermyn nie.

Möller sê die organisasie het reeds by verskeie geleenthede ‘n “inligtingstuk gerig op die hantering van die onregmatige besetting van grond” onder die aandag van sy lede gebring. Agri SA sê die inligtingstuk is ook aan die SAPD se prioriteitskomitee vir Landelike Veiligheid voorsien. “Landbou-produsente moet hulle vergewis van die inhoud hiervan aangesien hulle regte en verpligtinge in gevalle van besetting of betreding duidelik hierin uiteengesit word. Agri SA staan steeds ordelike wetstoepassing voor, maar kan die benadering slegs uitleef indien die owerheid dit moontlik maak”, sê Möller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.