Landdros Gumede aangekla

Stanley Gumede

Landdros Stanley Gumede is formeel deur die Landdroskommissie van wangedrag aangekla.

Gumede was glo pres. Jacob Zuma se eerste keuse om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te lei, het City Press Sondag berig. Hy is Woensdag aangekla.

Danie Schoeman, sekretaris van die kommissie, het Vrydag aan die koerant gesê Gumede sal aanhou werk terwyl die ondersoek afgehandel word. Volgens City Press het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê Zuma oorweeg tans die aanstelling van hoofde vir die NVG en die spesialeondersoek-eenheid.

Die NVG is nou al sedert Desember 2011 sonder ‘n permanente hoof. Die Demokratiese Alliansie (DA) het glo gesê hy sal die saak voor die hof daag indien Zuma Gumede aanstel.

Die konstitusionele hof het in Oktober bevind dat Zuma se aanstelling van die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, Menzi Simelani, ongrondwetlik en ongeldig was.

Die Ginwala Kommissie van Ondersoek oor die geskiktheid van Simelane se voorganger, Vusi Pikoli, om die amp te beklee, het besware uitgelok oor Simelane se begrip oor die verhouding tussen die departement van justisie en die NVG. In daardie stadium het regter Zac Yacoob van die konstitusionele hof gesê Simelane is kragtens die Ginwala-ondersoek evalueer. Pikoli het aan die City Press gesê ‘n nuwe hoof moet dringend aangestel word om die NVG se waardigheid te herstel. “Die twee grootste probleme is ‘n tekort aan leierskap en politieke druk,” het hy glo gesê. “Die persoon moet sterk onafhanklik en onpartydig wees en nie onder onredelike politieke druk swig nie.”

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.