Lang vonnis vir Moyo en makker

Argieffoto

Bongani Moyo en ‘n mede-bankrower is Maandag langdurige vonnisse opgelê vir ses bankrowe binne ses weke.

Moyo (30) is in die Pretoriase hooggeregshof tot 62 jaar tronkstraf gevonnis en Khumbulani Sibanda (32) is tot 55 jaar tronkstraf gevonnis op 15 aanklagte, insluitend swendelary, bankroof en ontsnapping uit aanhouding. Die twee Zimbabwiërs het erken dat hulle ses banke in Pretoria, Rustenburg, Boksburg en Roodepoort in April en Mei 2011 van sowat R268 000 beroof het. Hul misdade het begin nadat hulle ‘n maand vantevore met behulp van tronkbewaarders uit die Boksburg-gevangenis ontsnap het.

Regter Natvarlal Ranchod sê hy hoop dat die oortreders reeds hul straf ontvang het, aangesien dit totaal onaanvaarbaar is dat diegene wat ontsnapping moet voorkom, gevangenes gehelp het om te ontsnap. “Daar is reeds ‘n onaanvaarbare hoë vlak van xenofobie in die land en die beskuldigdes se vergryping aan kriminele aktiwiteit het nie die situasie aangehelp nie,” het Ranchod gesê. Die hof het hul bewering dat hulle nooit beplan het om vuurwapens tydens die rooftogte te gebruik nie, verwerp.

Die regter het gesê beeldmateriaal van die rooftogte wys hoe Moyo ‘n sekuriteitswag klap en skop en hoe die twee van hulle oor ‘n toonbank spring en personeellede met geweld dreig indien hulle teenstand ontvang het. “Indien ‘n oortreder ‘n gevaar vir die samelewing is, is dit die hof se plig om die samelewing teen daardie persoon te beskerm.”

Beide beskuldigdes het aangevoer hulle is gemotiveer deur die finansiële verknorsing waaronder hul gesinne in Zimbabwe gebuk gegaan het, maar Ranchod het gesê hulle het reeds ‘n misdadigersleefstyl aangehang nog voordat hulle die reeks bankrowe uitgevoer het. Sibanda dien reeds gevangenisstraf van 30 en 15 jaar uit vir twee vorige gewapende rowe. Moyo dien tronkstraf uit vir die besit van onwettige vuurwapens en dat hy uit die Pretoriase landdroshof en Pretoriase sentraal gevangenis ontsnap het.

Beide het aangedui dat hulle appèl gaan aanteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.