Langste en oudste sterf

Yao Defen

Twee rekordhouers het gesterf.

Yao Defen, die langste vrou in die wêreld, het in Sjina in die ouderdom van 40 gesterf. Defen het op 13 November in Anjui gesterf, het die Xin’an Wanbao Dinsdag berig. Sy het vir ‘n geruime tyd met gesondheidsprobleme gesukkel. ‘n Gewas tydens haar kinderjare het ‘n snelgroeifase tot gevolg gehad en sy was reeds 1.83m lank toe sy 13 jaar oud was. Haar gesin het haar aan die sirkus laat deelneem om hul karige inkomste aan te vul. Die Sjinese media het berig dat sy as volwasse vrou 2.36m lank was, maar volgens die Guiness World Records was sy 2.33m lank.

Die wêreld se oudste persoon, Besse Cooper van Amerika, het Dinsdag in die ouderdom van 116 gesterf. Sy het in Georgia, oos van Atlanta, gesterf, het haar seun, Sidney, aan CNN gesê. Cooper “het ‘n lang, goeie lewe gehad. Sy het maklik gesterf,” het hy gesê. Guiness World Records het in Januarie 2011 haar as die oudste lewende persoon gekroon. Sy is op 26 Augustus 1896 in Tennessee gebore. In antwoord op die geheim vir haar hoë ouderdom het sy gesê: “Ek hou my neus uit ander se sake en ek eet nie kitskos nie.”

Betty Cooper

Cooper is in 1924 met haar man, Luther, getroud en hulle het vier kinders gehad. Op haar 114de verjaarsdag het sy 12 kleinkinders en meer as ‘n dosyn agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders gehad.

In die jaar wat Cooper gebore is, is die eerste Dow Jones nywerheidsgemiddeld gepubliseer, is die eerste moderne Olimpiese Spele gehou en is die eerste Ford-motor gebou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.