‘n Video van die akteur uit Law & Order volg onderaan die berig. Die akteur, Dennis Farina, wat bekendheid verwerf het vir sy rol as speurder Joe Fontana in Law & Order, is Maandag in Scottsdale, Arizona dood.
Farina (69) is glo dood weens ‘n bloedklont in sy long.
Hy is ‘n legende wat in talle klassieke rolprente en televisiereekse verskyn het, insluitend Get Shorty, Snatch en Midnight Run.
Hy is in 1944 in Chicago gebore en word oorleef deur sy drie volwasse kinders uit sy huwelik met Patricia Farina. Hulle is in 1980 geskei. Hy het ook twee kleindogters en vier kleinseuns. Farina se verteenwoordiger het ook gesê hy word oorleef deur “die liefde van sy lewe van 35 jaar, Marianne Cahill”. Die twee is nooit getroud nie.
Waarskuwing: Daar is ‘n paar kragwoorde wat in die volgende insetsel gebruik word.