Leerling met drank in klas gevang

Leerlinge van die hoërskool Midrand wag op die sportveld terwyl polisie die skool deursoek. Foto: LookLocal

ʼn Sportdag by die Hoërskool Midrand is gekanselleer nadat ʼn leerling met drank in ʼn klaskamer gevang is. Die leerling het dronk voorgekom en het ʼn plastiekbottel met alkohol by hom gehad.

Die plaaslike polisie met hul snuffelhonde was besig met ʼn roetine-teenmisdaadveldtog in die skool om die veiligheid van die leerlinge te verseker toe hulle in kennis gestel is dat een van die onderwysers die leerling in ʼn klas betrap het, berig LookLocal.

Matome Tlamela, woordvoerder van die Midrand polisie, sê onderwysers het die polisie versoek om nie teen die leerling op te tree nie en het die versekering gegee dat die saak intern hanteer sal word. “Ons doen gereeld sulke besoeke aan skole om kinders teen die gevare van dwelmmisbruik te waarsku en die geboue vir verbode middels te deursoek,” het sy verduidelik.

Thomas Stroud, die skool se skakelbeampte, het die versekering gegee dat hulle bewus is van die voorval en dat die nodige stappe teen die leerling geneem sal word. “Daar sal waarskynlik ʼn dissiplinêre verhoor wees vir die kind en sy ouers, waarna hy moontlik geskors mag word.”

Die saak sal hanteer word sodra die skool na die wintervakansie heropen, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.