Leerling moet uittrek oor ‘verkeerde’ uniform

Foto: Phill Magakoe

ʼn 10-jarige meisie wat ʼn grys langbroek in plaas van ʼn rompie na haar skool in Johannesburg aangetrek het, is glo gedwing om die broek uit te trek en die res van die dag in haar broekie, skoolhemp en trui te spandeer.

The Star berig dat die graad 4-leerling by die Cosmo City-laerskool glo Dinsdag gedwing is om haar broek uit te trek aangesien sy die “verkeerde” uniform skool toe aangetrek het. Volgens die meisie se ma het sy ʼn grys langbroek aangetrek, aangesien haar rompie nog nat was van die vorige dag se reën. Die meisie se broek het toe glo verlore geraak en sy moes daarsonder huis toe keer. Die skoolhoof, Kgomotso Khumalo, ontken die bewerings en sê sy het die meisie wel onder ʼn afdak laat staan tot 10:00 die oggend. Sy sê die meisie was een van sowat 70 leerlinge wat nie die korrekte uniform aangetrek het nie. “Ek het vir hulle gesê julle is soos ʼn sirkus aangetrek. Wat ek gewoonlik doen, is om vir hulle te vra om onder die afdak te staan tot dit pouse is om 10:00 en dan mag hulle teruggaan klas toe. Ek gee dan ook vir hulle ʼn brief om vir hulle ouers te gee.”
Khumalo erken dat sy nie Dinsdag vir hulle briewe gegee het nie.

Die woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, Charles Phahlane, sê geen leerling moet by die skool verneder word nie en dat hulle die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.