The Star berig dat die graad 4-leerling by die Cosmo City-laerskool glo Dinsdag gedwing is om haar broek uit te trek aangesien sy die “verkeerde” uniform skool toe aangetrek het. Volgens die meisie se ma het sy ʼn grys langbroek aangetrek, aangesien haar rompie nog nat was van die vorige dag se reën. Die meisie se broek het toe glo verlore geraak en sy moes daarsonder huis toe keer. Die skoolhoof, Kgomotso Khumalo, ontken die bewerings en sê sy het die meisie wel onder ʼn afdak laat staan tot 10:00 die oggend. Sy sê die meisie was een van sowat 70 leerlinge wat nie die korrekte uniform aangetrek het nie. “Ek het vir hulle gesê julle is soos ʼn sirkus aangetrek. Wat ek gewoonlik doen, is om vir hulle te vra om onder die afdak te staan tot dit pouse is om 10:00 en dan mag hulle teruggaan klas toe. Ek gee dan ook vir hulle ʼn brief om vir hulle ouers te gee.”
Khumalo erken dat sy nie Dinsdag vir hulle briewe gegee het nie.
Die woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys, Charles Phahlane, sê geen leerling moet by die skool verneder word nie en dat hulle die saak ondersoek.