Leërskool eis soveelste slagoffer

Die weermag se infanterieskool op Oudtshoorn het nog ʼn slagoffer geëis. Die liggaam van ʼn rekruut is Donderdagoggend gevind.

Adv. Pikkie Greeff, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu), sê hulle is geskok deur die dood van nog ʼn soldaat by die infanterieskool. “Volgens ons ondersoeke was die soldaat ʼn rekruut wat besig was met sy opleiding en moes hy Woensdagaand wag staan buite die basis.” Greeff sê die soldaat is omstreeks 20:00 Woensdagaand die laaste keer gesien en sy liggaam is omstreeks 7:00 Donderdagoggend gevind. “Die oorsaak van sy dood is hipotermie volgens alle aanduidings.” Greeff sê daar is talle vrae rondom die rekruut se dood. “Hy was moontlik nie reg aangetrek vir die weersomstandighede nie aangesien die temperatuur onder vriespunt was. Daar is ook veronderstel om kontak tussen die wagte te wees en ʼn veldbeampte moet ook gereeld inspeksies doen om te kyk of die wagte op hul pos is. Wagte is ook veronderstel om elke twee uur te roteer.” Greeff sê die tragedie kon voorkom word indien die regte prosedures gevolg is. Brig.genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, het bevestig dat die rekruut se liggaam Donderdagoggend gevind is. Hy sê die polisie ondersoek die saak en wou nie verder kommentaar lewer nie.

Die nuutste sterfte by dié infanterieskool kom ʼn jaar nadat ʼn rekruut haarself met haar dienswapen doodgeskiet het. Sy is glo in ʼn kollega se kamer betrap en voor ander kollegas verneder voor sy selfmoord gepleeg het. In Junie 2012 is ʼn swanger vrouerekruut dood nadat sy glo ʼn erge sessie strafoefening ondergaan het. In Desember 2011 is ʼn rekruut dood, glo aan hitte-uitputting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Die ANC-regering moet begin besef dat hul onvermoë en onbevoegdheid om te regeer in ‘n hedendaagse bestel, groter eise stel as wat hulle dink – hulle het nie te doen met ‘n klomp rekrute vir “eie”gebruik nie maar met die mense van ‘n land wie hoë verwagtinge koester van die huidige regering.

Gawie Botha ·

,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,interesante inligting!!!! Dit wil se,dat “wagdienste” by die Suid Afrikaanse weermag van so n standaards is,dat daar nie behoorlikke toesig is,en dat die “vyand” baie maklik sodanige basis kan oorneem,dwarsdeur die land,,,,,en al die nuwe “Warlords” in Suid Afrika is bewus daarvan,,,lekker man!,,,,,,,,,,,,so n “coup” is nie afwendbaasr nie!!!!,,,,,,,,,,,,,,,,iemand sal hulle sokkies moet optrek,aangesien hulle besig is met hulle eie ondergang,,,,,,,,,,,,,,of meskien wil die weermag dit so he,dat hulle met n nuwe bestuur oorgeneem word,,,,,,,sodat daar verbetering kan intree,,,,,,so! waarvoor wag julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.